DOMUS BANNER
Zim Ngqawana-konsert in Stellenbosch Print E-mail

Op 1 Maart 2010 is Aryan Kaganof se nuwe film, The Exhibition of Vandalism, tydens 'n colloquium van die Departement Musiek vertoon. Die geleentheid is bygewoon deur die filmmaker, wat na afloop van die vertoning oor die film gepraat het en vrae beantwoord het.

The Exhibition of Vandalism dokumenteer 'n musikale ritueel uitgevoer deur die befaamde musici Zim Ngqawana en Kyle Shepherd. Daar word gesien hoe Ngqawana en Shepherd musiseer in die gevandaliseerde ruimte van Ngqawana se Zimology Institute buite Johannesburg, onder andere op gebreekte klaviere en puin, terwyl Kaganof se kameralens die gebeure in 'n virtuose, musikaal-sensitiewe epos van rou en verlies interpreteer. Primêr spreek die film van die gebrokenheid en verskeurdheid van die Suid-Afrikaanse samelewing, en die plek van musiek in so 'n samelewing. Dit is 'n klinkende antwoord op Adorno se vraag na die plek van kuns in 'n geskiedenis wat 'n distopiese wending geneem het.



So kragtig was die impak van hierdie vertoning op 1 Maart, dat 'n groep studente (Die Raad) van Stellenbosch Universiteit se Departement Musiek besluit het om Ngqawana, Shepherd en Kaganof te nooi om op Stellenbosch 'n verdere interpretasie van die Exhibition of Vandalism te kom aanbied. Die geleentheid vind plaas op 1 Mei om 18:00 by Star Metals, Tennantstraat 27 (Vanaf Stellenbosch: neem R44 na Paarl; draai links by eerste stel verkeersligte na Tennantville; neem eerste straat links vir Tennantstraat). Die bedoeling van die uitnodiging was om solidariteit met Ngqawana te toon en om hom te help om fondse te genereer om die Zimology Institute te herbou. Maar uiteindelik was die bedoeling van hierdie jong musici en musiekwetenskaplikes ook om eensgesindheid te demonstreer met die kragtige kritiek en verklaring van hoop wat deur die musiek en film van Ngqawana, Shepherd en Kaganof geartikuleer word.

In erkenning van die belang van die Zimology Institute as 'n ruimte wat nie-kommersiële musiekbeoefening koester en die mentorskapsrol wat Ngqawana gespeel het en steeds speel vir jong en grensverskuiwende Suid-Afrikaanse musici, borg die Dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS) hierdie konsert in Stellenbosch. Deel van DOMUS se missiestelling is om deur strategiese ondersteuning vir uitvoerings en opnameprojekte die Suid-Afrikaanse toonkuns in stand hou as 'n belangrike deel van 'n breë Suid-Afrikaanse erfenis. Die Exhibition of Vandalism word ondersteun as 'n voorbeeld van wat so 'n instandhouding deur uitvoering kan behels.

Die Raad: Lizabé Lambrechts, Natasje van der Westhuizen, Annemie Stimie,
Mareli Stolp, Aryan Kaganof, Etienne Viviers

(April 2010)

ZIM NGQAWANA-KONSERT IN STELLENBOSCH GEHOU

Na die vertoning van Aryan Kaganof se film, An Exhibition of Vandalizim tydens 'n departementele colloquium, het 'n aantal studente verbonde aan die Universteit Stellenbosch 'n konsert gereël met Zim Ngqawana en Kyle Shepherd op 1 Mei 2010 by Star Metals, Tennantville.

Beeldmateriaal van hierdie geleentheid is beskikbaar op die Suid-Afrikaanse Musieknavorsingsblog.

(Mei 2010)

 

Meer oor Zim Ngqawana

Kaya FM pays tribute to Zim Ngqawana Lees verder...
I sing with a sword in my hand Lees verder...

Last Updated ( Tuesday, 07 June 2011 )
 
< Prev   Next >

Kopiereg DOMUS 2006 - 2021 www.domus.ac.za. Alle Regte Voorbehou. | Algemeen | Webtuiste | Voorwaardes vir Gebruik.

SUN LOGO