DOMUS BANNER
Obelisk Musiek skenk versameling aan DOMUS Print E-mail

Obelisk Musiek is in Julie 1991 gestig in Pretoria, en hulle eerste uitvoering van Suid-Afrikaanse musiek vind in Februarie 1992 plaas, ook in Pretoria. Die stigterslede van hierdie organisasie ter bevordering van Suid-Afrikaanse Nuwe Musiek was die komponiste Étienne van Rensburg, Johannes van Eeden en wyle Christopher James. Vir tien jaar was Obelisk Musiek die enigste organisasie wat aan Suid-Afrikaanse komponiste 'n uitvoeringsforum verleen het in Pretoria, en die suksesvolste organisasie van sy soort in die land. Konserte is gehou in die Staatsteater en die Musaion van die Universiteit van Pretoria en kommersiële CD’s met beperkte oplae is uitgereik van musiek wat tydens die konserte opgeneem is. Van die musiek wat so vrygestel is sluit in onbekende werke soos Andrew Cruickshank se Red Clouds Breaking Bird Song en Four Pieces for Piano, Bongani Ndodana se But there went up a mist watering the face of the ground en John Coulter se O Tshwanetse Go Reetsa.

Die aktiwiteite van Obelisk Musiek het in die vroeë 21ste eeu opgehou, alhoewel die organisasie nooit amptelik ontbind is nie. Met behulp van die Musiekbiblioteek het DOMUS in Julie 2008 die partiture, opnames en dokumente van Obelisk Musiek bekom. Nie net maak dit heelwat partiture en opnames van onbekende Suid-Afrikaanse musiek aan studente, uitvoerders en navorsers beskikbaar nie, maar dit stel ook die dokumente van Obelisk Musiek tot die beskikking van navorsers. Die belang hiervan lê daarin dat die versameling 'n blik bied op Suid-Afrikaanse kunsmusiekpraktyk in die laaste dekade van die twintigste eeu in die hoofstad van die republiek tydens die grootste politieke veranderings wat in dekades in Suid-Afrika plaasgevind het.

(Augustus 2008)

Last Updated ( Thursday, 22 November 2012 )
 

© Kopiereg DOMUS 2006 - 2021 www.domus.ac.za. Alle Regte Voorbehou. | Algemeen | Webtuiste | Voorwaardes vir Gebruik.

SUN LOGO