DOMUS BANNER
DOMUS borg seminare oor Suid-Afrikaanse musiek Print E-mail

As deel van ons verbintenis daaraan om intellektuele diskoers oor Suid-Afrikaanse musiek te stimuleer, het DOMUS onlangs twee besoekende akademici ontvang by die Musiekdepartement.

Marie Jorritsma is 'n senior lektor in die Departement van Kunsgeskiedenis, Visuele Kunste en Musiekwetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) in Pretoria. Sy is ook die sekretaresse van die South African Society for Research in Music (SASRIM) en die boekeredakteur van die vaktydskrif Muziki. Op 18 September het Jorritsma studente en personeel toegespreek in die Fismersaal oor die kerkmusiek van die kleurling-gemeenskap van Graaff-Reinet in die Karoo. Die referaat, getiteld ‘The hidden histories in the church music of a South African coloured community’, is gebaseer op navorsing wat sy gedoen het vir haar doktorsgraad, ‘Sonic Spaces: Inscribing “Coloured” Voices in the Karoo’ (2006), aan die Universiteit van Pennsylvania. Ook teenwoordig tydens die lesing was die Solms Delta Museum musiekkonsultant en musikus Alex van Heerden. Hy het saam met die susters An-Lize en Letitia Davids van die Ware Evangelie Kerk in Atlantis koortjies uitgevoer wat kenmerkend is van hierdie kerkgemeenskap. Jorritsma het ook in haar lesing na die koortjies in Graaff-Reinet se gemeentesang verwys.

Barbara Titus is 'n medeprofessor in musiekwetenskap aan die Department van Media en Kulturele Studies van Universiteit Utrecht. Sy is ook die uitvoerende redakteur van die Nederlands Tijdschrift voor Muziektheorie. Sedert 2007 is sy periodiek in Suid-Afrika gebaseer as 'n navorsingsgenoot aan die Universiteit van Kwazulu-Natal. Titus het in 2007 'n navorsingsprojek begin oor globale verteenwoordiging van Suid-Afrikaanse maskanda aan die Onderzoekinstituut voor Geschiedenis en Cultuur aan Universiteit Utrecht. Haar lesing op 16 Oktober was getiteld ‘Maskanda overseas: Some preliminary enquiries’. Sy het bespreek hoe maskanda ‘world music’ word, en hoe hierdie transformasie die musikale en intellektuele tekens en narratiewe van maskanda verander.

Last Updated ( Wednesday, 29 April 2009 )
 

Kopiereg DOMUS 2006 - 2021 www.domus.ac.za. Alle Regte Voorbehou. | Algemeen | Webtuiste | Voorwaardes vir Gebruik.

SUN LOGO