
Graham Newcater, Suid-Afrika se mees gevierde twaalftoonkomponis, het verskeie van sy musikale outograwe, sketse, foto’s, briewe en kunswerke geskenk aan die Dokumentasiesentrum vir Musiek. Hierdie skenking sluit in outograafpartiture van sy Strykkwartet (1984), sketse en die outograafpartituur van Variations de timbres (1967) en jeugwerke en oefeninge.
Alhoewel hierdie skenking beteken dat DOMUS nou die grootste enkele versameling Newcater materiaal in Suid-Afrika besit, verteenwoordig die versameling slegs 'n klein deel van Newcater se musikale en literêre nalatenskap. Die meeste van die komponis se oorspronklike partiture word besit deur opdraggewende instellings soos die SAUK en SAMRO. DOMUS het nou, met die hulp van die komponis, begin met 'n projek om goedgekeurde kopieë van hierdie materiaal in Stellenbosch te versamel.
Mei 2007

Uittreksel uit Newcater se Variations de Timbres (1967)
Biografie
Graham Newcater is in Johannesburg op 3 September 1941 gebore, maar het grotendeels sy skoolopleiding in Durban, waar sy familie in 1948 verhuis het, ontvang. Terwyl hy meganiese ingenieurswese aan die Natalse Tegniese Kollege studeer het, het hy ook musiek privaat studeer (klarinetlesse en komposisielesse via korrespondensie met Arnold van Wyk). Met sy terugkeer na Johannesburg in 1958 was Newcater in die motor industrie werksaam. Gedurende hierdie tyd het hy ook sy musiekstudies voortgesit met komposisie onderrig van Gideon Fagan. In 1962 het hy deur middel van 'n beurs deur die Suid-Afrikaanse Musiekregte Organisasie (SAMRO) in Londen studeer. Vir twee jaar het hy aan die Royal College of Music komposisie onder leiding van Peter Racine Fricker en dirigeerskap (in die tweede jaar) onder leiding van Sir Adrian Boult studeer. In 1965 het Newcater na Johannesburg teruggekeer waar hy vir 'n kort periode by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) werksaam was. In 1966 het hy na Londen teruggekeer waar hy die Ralph Vaughan Williams beurs gewen het op aanbeveling van Howard Ferguson, Robert Simpson en Humphrey Searle, met wie hy privaat vir ses maande gestudeer het. Einde 1966 het Newcater finaal teruggkeer na Johannesburg waar hy vir 'n kort periode by die SAUK werksaam was. Met die sukses in van sy Eerste Simfonie (begin in Londen in 1964 en voltooi met sy terugkeer) het hy opdrag ontvang van die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK) om die musiek vir die ballet Raka, gebaseer op 'n gedig van N.P. van Wyk Louw, te komponeer. Die sukes van hierdie ballet het gelei tot die verfilming daarvan wat wêreldwyd deur 20th Century Fox versprei is.

Benewens Raka, het Newcater verdere suksesvolle oorsese uitvoerings gevier, naamlik sy Eerste Simfonie in Parys en Brussels en sy Filharmoniese Overture in Asunción en Montevideo. Newcater is 'n 12-toon komponis en sy mees belangrike werke sluit in:
- Eerste Simfonie
- Raka (Ballet)
- Variations de Timbres (vir orkes)
- Derde Simfonie
- Strykkwartet
- Songs of the Inner Worlds (vir sopraan en orkes)
- Cape Chronicles (vir orkes)
- African Idylls (vir strykkwartet)
Vertaling van inligting deur Graham Newcater verskaf, 2 November 2009
|