DOMUS BANNER
EOAN-Groep dokumente by DOMUS bewaar Print E-mail

'n Omvattende versameling dokumente oor die geskiedenis van die EOAN-Groep is deur die huidige EOAN Raad aan DOMUS oorhandig vir bewaring, katalogisering en navorsing. Die ooreenkoms is op 28 Januarie 2008 te Stellenbosch onderteken deur die waarnemende Voorsitter van die Departement Musiek en Vise-Dekaan (Kunste), prof. Sandra Klopper, en mnr. Sjafiek Rajab namens EOAN. Die versameling is verpak en vervoer vanaf die Joseph Stone Teater in Athlone na DOMUS op Stellenbosch deur 'n span studente en DOMUS personeel op 23 Februarie 2008.

Hierdie dokumente is nou een van die grootste en belangrikste versamelings in DOMUS. Dit bestaan uit programme, briewe, notules, administratiewe dokumente, foto’s en koerant-uitknipsels. Die materiaal karteer die grootliks ongedokumenteerde geskiedenis van die EOAN-Groep, 'n kulturele organisasie toegewy aan die opvoer van onder andere opera, ballet en toneel onder die sogenaamde ‘Kleurling’-gemeenskap van die Wes-Kaap. Die uitwerking van apartheid wetgewing op kunsmusiekproduksie in Suid-Afrika word dikwels slegs indirek vergestalt in musiekhistoriografie van die tyd. Die rede hiervoor is dat amptelike kunsmusiekproduksie floreer het in 'n institusionele omgewing wat ondersteun en befonds is deur 'n simpatieke wit minderheidsregering. Die EOAN openbaar 'n skadukant van hierdie verhaal; een van swaarkry, moed, sukses ten spyte van teenkanting en 'n musiekgemeenskap wat in twee geskeur is deur apartheid politiek.

 


DOMUS loods 'n gemeenskapsprojek om die herinneringe van diegene wat by EOAN betrokke was in die agt dekades sedert die stigting van die organisasie, te boekstaaf. Universiteit van Stellenbosch doktorale student en navorser oor die geskiedenis van opera in Suid-Afrika, Hilde Roos, koordineer die projek wat na verwagting oor die volgende drie jaar sal strek.

 

Hilde Roos

Belangstellendes kan Hilde by 083-660 1006 of This e-mail address is being protected from spam bots, you need JavaScript enabled to view it kontak.

 

Last Updated ( Monday, 23 August 2010 )
 

Kopiereg DOMUS 2006 - 2021 www.domus.ac.za. Alle Regte Voorbehou. | Algemeen | Webtuiste | Voorwaardes vir Gebruik.

SUN LOGO