DOMUS BANNER
Waardevolle Grové Outograwe nou in DOMUS Print E-mail

Stefans Grové


Stefans Grové is die mees gevierde van die eerste generasie Suid-Afrikaanse komponiste. Hy is die enigste Suid-Afrikaanse komponis oor wie daar tot op datum 'n bundel kritiese opstelle in boekvorm verskyn het (A Composer in Africa: Essays on the Life and Work of Stefans Grové, Sun Press, 2006), hy het eredoktorsgrade van die Universiteite van die Vrystaat en Pretoria ontvang en in 2008 is hy as erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer. Grové, wat die eerste Suid-Afrikaanse ontvanger van 'n Fulbright-beurs was in 1953 en vir veertien jaar aan die wêreldberoemde Peabody Universiteit in Amerika doseer het, woon sedert 1973 in Pretoria. Hy was professor in komposisie aan die Universiteit van Pretoria tot en met sy aftrede in 1987, en is tans nog inwonende komponis aan hierdie universiteit.



In Mei vanjaar het Grové sketse, outograwe en gedrukte partiture van ongeveer honderd van sy werke aan DOMUS geskenk vir bewaring, katalogisering en ontsluiting vir navorsing en uitvoering. Die versameling bevat met enkele uitsonderings Grové se volledige werklys tot op hede, wat beteken dat navorsers en musici vir die eerste keer hierdie komponis se hele oeuvre op een plek kan besigtig en bestudeer. Die musiek wat nou by DOMUS gehuisves word, sluit voorheen onbekende jeugwerke in: 'n ongetitelde orkeswerk wat hy in sy matriekjaar geskryf het (1941), 'n Fantasie vir klavier en strykorkes (1939) wat vir die eerste keer deur Dodds Miller as dirigent uitgevoer is met die Kaapse radio-orkes, 'n Balletsuite vir twee klaviere (1944), sy eerste strykkwartet waaraan hy in Kaapstad gewerk het onder leiding van W.H. Bell (1945) en 'n Sonatine vir klarinet en klavier (1946).



Benewens al die werke uit Grové se neo-klassieke styl (insluitende die outograaf van sy 1955 Fluitsonate wat deur Jean-Pierre Rampal opgeneem is), en veelbesproke Afrika-styl wat reeds met die ballet Waratha (1976) 'n aanvang neem, is daar ook ongewone fondse in hierdie skenking. Dit sluit in sy stylproefnemings (1967-1995) wat hy drie keer met groot welslae in Amerika uitgevoer het na aanleiding van Rosemary Brown se ‘Beyond the Fringe’ opnames van 1966. Hierdie musiek, soos ook die vyfdelige nabootsingswerk, Cantata Profana (waarvan die teks volgens oorlewering tydens 'n bierdrinksessie ontstaan het), open hernieude perspektiewe op die legendariese humor en spitsvondigheid wat Grové se musiek van dié van sy meer melancholiese, neo-romantiese Suid-Afrikaanse tydgenote onderskei. Nog 'n werk in die versameling waaroor min bekend is, is die ongeorkestreerde partituur van 'n historiese opera, Die bose wind (1983), wat gebaseer is op volksliedere en wat handel oor die vryburger-opstand in Kaapstad (iewers tussen 1779 en 1783). Hierdie werk, wat deur die destydse Kaapse Raad vir die Uitvoerende Kunste (KRUIK) aangevra is, is nog nooit uitgevoer nie.

Die Grové-versameling is een van die belangrikste musiekversamelings in Suid-Afrika. Die skenking daarvan aan DOMUS beteken dat die Universiteit van Stellenbosch in die toekoms 'n belangrike sentrum kan word vir navorsing oor een van Suid-Afrika se grootste komponiste.

 

 

 

Last Updated ( Wednesday, 29 April 2009 )
 

© Kopiereg DOMUS 2006 - 2012 www.domus.ac.za. Alle Regte Voorbehou. | Algemeen | Webtuiste | Voorwaardes vir Gebruik.

SUN LOGO